JACKIE SCHOEMAN GESPEEL DEUR BEATRIX ERASMUS
Jackie Schoeman
Jackie is ‘n bietjie van ‘n misterieuse karakter. Almal ken haar as ‘n nugter en op-haar-plek-meisie, maar in Londen het sy ‘n ander kant van haar persoonlikheid ontdek. Sy keer toe terug huis-toe om haar kop skoon te kry.
Na die Londen-ervaring is Jackie deur ‘n miskraam en is baie skepties oor mans, na ‘n paar liefdesteleurstellings. Sy het min respek vir haar onverantwoordelike pa, maar hulle kom wel op ‘n punt waar sy verstaan wie en wat hy is en hom daarvoor kan vergewe. Sy begin wonder of haar ‘hoofmeisie-geaardheid nie ook maar ‘n soort rebellie was nie: teen haar pa Rikus se sogenaamde ‘kunstenaarskap’ en aangeplakte uitlatings (wat fantasties was vir sy beeld, maar bitter min vir die struggle beteken het).
Nadat Delarey haar vir Natasha los, het sy ‘n ineenstorting, maar haar terapeur help haar om te besef sy moet dinge vir haarself doen en nie vir mans nie. Sy’s baie lief vir haar broer en ma, al het sy en Marius ook maar tipiese broer-suster bakleisessies. Die dood van haar ma, Louise, vat baie hard aan haar.
Jackie is goed versorg en baie mooi en het ‘n joernalistieke talent. Sy skryf eers vryskut-artikels vir JIP, maar hou haar nou besig met webontwerp, veral ‘n webwerf vir Villa Rosa….en dan ontmoet sy die kunstige Hein ‧ die nuwe en aantreklike plaasvoorman.
Beatrix Erasmus
Beatrix Erasmus is op 7 Januarie 1982 by die Ou Moedersbond in Beatrix Straat, Pretoria, gebore as die oudste van drie dogters. Sy het by Leeudoringstad tot die middel van Standerd 1 skoolgegaan en daarna het haar gesin na Potgietersrus verhuis.
Aan die einde van 2003 het Beatrix haar dramagraad aan die Universiteit van Pretoria behaal. In 2004 stig sy haar eie besigheid, ‘Fun & Games, wat siek kinders in hospitale vermaak. Sy besit nog steeds die besigheid maar doen nie meer die werk self nie. Beatrix het in dieselfde jaar ‘n klein rol in Jozi Streets vertolk en aan die einde van 2004 die rol as Jackie Schoeman in Villa Rosa gekry.
Sy bring haar vrye tyd by haar huis in Radiokop, Roodepoort deur, dink eksotiese resepte uit en gaan dans graag saam met haar vriende.
BEN RETIEF (GESPEEL DEUR HERMAN HARDICK)
Ben Retief
Ben is ‘n gekwalifiseerde argitek. Hy het omtrent 20 jaar gelede in Londen gestudeer, daarna teruggekom, verlief geraak op Wanda, getrou en hom in Pretoria gevestig. Hulle het ‘n stormagtige huwelik gehad, gevolg deur ‘n lelike egskeiding, wat Ben met ‘n paar emosionele letsels gelaat het.
Die egskeiding het hom reeds kaal uitgetrek en met borgskap van sy afgetrede professor-Pa, Fritz, open hy ‘n gastehuis, Villa Rosa, in Bloemfontein. Aan die begin gaan dit broekskeur. Die gebou is oud en vervalle, opknappings is duur, die elektrisiteit en loodgieterwerk moet omtrent alles oorgedoen word, en daar is nog ‘n honderd-en-een probleme. Alles was egter die moeite werd en die Villa oorleef, ten spyte van geld wat maar knap bly. Sy verhouding met sy Pa is ‘n sentrale tema in Villa Rosa.
Ou Fritz is ‘n patriarg uit die ou skool en is geneig om erg buierig en voorskriftelik te wees. Ben altyd die ou op wie jy kan staatmaak. Hy kan dalk bietjie geïrriteerd raak oor kleinighede, maar as daar rêgtig groot krisisse opduik, is Ben ‘die Man’.
Sy vermoë om die vrede te bewaar is nie as gevolg van swakheid nie, dis bloot ;n feit dat hy nie die tyd of energie het om onnodig in konfrontasies betrokke te raak nie. Sy jonger broer, Charl, is effe onverantwoordelik, rebellerend en ‘n regte ladies man en hulle het ook maar ‘n tipiese broer-verhouding wat van een ekstreem na die ander kan gaan. Ben en Charl sal eintlik deur die vuur vir mekaar loop, maar kan, soos jong leeus, mekaar lelik tromp-op loop. Daar bestaan ‘n jarelange vete tussen Ben en Shane Rix en Ben sal alle doen om te keer dat Shane sy familie of die Villa te na kom. Die voortbestaan en sukses van Villa Rosa is die kern van sy bestaan. Hy gee om vir mense en mik altyd om ‘die regte ding’ te doen. Ben is ‘n baie eensame karakter, veral na Louise se onlangse dood.
Herman Hardick
Herman Hardick is ‘n akteur, sanger en stemkunstenaar. Hy is op 9 Oktober 1968 in Kaapstad gebore en het in Kuilsrivier groot geword. Na skool het hy ‘n onderwysdiploma aan die Paarlse Onderwyskollege verwerf, asook ‘n BA-graad in Drama aan die Universiteit van Stellenbosch.
Hy het vir ses jaar by die Laerskole Groote Schuur, Kampsbaai, Rhyl Primary (London) en Reddam House in Kaapstad skool gegee. Sy professionele loopbaan as akteur het in 1988 begin met radiodrama en oorklanking vir die SAUK. Sy ander opleiding sluit die British-American Drama Academy se Midsummer in Oxford-program en verskeie kort kursusse by die Actors Centre in London in.
Hy is vandag ‘n bekroonde akteur en sanger met verskeie musiekteater-hoofrolle agter sy naam, soos Evita (Peron), The Silver Lake (Olim) en Chicago (Billy Flynn). Vir laasgenoemde rol het hy die Cape Times-toekenning vir beste akteur in ‘n musiekblyspel ontvang. Hy was deel van die baie suksesvolle en wel bekende acapella groep Not The Midnight Mass en was ook oorsee te sien in die hoog aangeskrewe multikulturele Suid-Afrikaanse produksie van The Mysteries, wat by kunstefeeste in die VSA, Australië en die West-End (Queens Theatre) in London opgevoer is.
Herman se film en TV-werk sluit rolle in verskeie plaaslike en internasionale advertensies en films in, soos The Flyer en die plaaslike situasie-komedie, Fishy Fêshuns. Hy vertolk sedert 2004 die rol van Ben Retief in Villa Rosa.